About Advertise
Culture, Music
RIP Wouda

RIP Wouda

by Carina Laubsche / 11.09.2010

Wouda, former manager and stalwart of The Bohemian, in Joburg, passed away in his sleep last week. Photographer Carina Laubsche bids him farewell.

Jy was ‘n knorrige bliksem. Jou kroeg was jou domein, van waar jy die res van die Boh se vreemde gediertes bespied het. Grimmige geeste soos jy wat maar net van die dag se kak met ‘n koue enetjie wou vergeet. Jy’t amper nooit vir iemand ‘n drankie gekoop nie. Wanneer dit wel gebeur het, was die frons van jou voorkop we…g, of het jy gevoel die dorstige wat voor jou sit, verdien dit. Jou groot ou trui was altyd effe zef, deurtrek van rook en die reuk van ou bier. Dalk bietjie braaksel ook, wie weet – jy’s immers die een wat die steierende slaplewers drie-uur soggens by die deur uitgeboender het. Jy het Jim Neversink op jou verhogie verwelkom sodat hy sy glykitaar en donker lirieke vir ons kon wys. Jim Neversink. Fokkit Wouda. Jim Neversink. En jy’t saam kopgeswaai vir soveel ander – Willim Welsyn, Chromium, Sticky Antlers, Death Valley Blues Band, NuL (wat ‘n instelling was soos jou uurlikse “Fok jou”, met jou glas in die lug. Buckfever Underground. Rokkeloos. Swartskaap. Diesel Whores. Battery 9. En Cortina Whiplash. Sharkbrother. Johnny Dopper en die Rubbersoles. Jy’t Bloedskande ‘n kans gegee, en voor ons het Plank, Trike, Miss September, Rooibaardt en Bacchus Nel kosbare ure in die nag volgemaak. Kapelaan Pat Plank met sy kwaai kitaar in “Trane van ‘n Terroris”. Die krapperige slimmighede van Blk Jks. Zen Arcade. En hoe daai dude onderstebo, tussen ‘n see van malende hande met sy voete teen die plafon gedans het vir Hog Hoggidy Hog. Daai aand het ons soos mal hoere gesweet. Onthou jy hoe’t Rambling Bones ons laat sing met sy middelvinger vir die korporatiewe tronk. En die onblusbare Riku Lätti.

En die Sondagmiddag toe jy in Brixton Moord en Roof se “Vis”-video voor ons oë in ‘n groen skubberige ding gemuteer het.

Jy’s nou dood.

En ons loop nog hier rond, rond in hierdie ry.

Fok jou, Wouda. Ons was lief vir jou.

11   0
LEAVE A REPLY

Loading...