About Advertise
Culture
Steve Hofmeyr

Hofmeyr in Wonderland

by Koos Marais / 29.07.2011

“For, you see, so many out of the way things had happened lately, that Alice had begun to think that very few things were really impossible.” – Llewis Carrol. Alice’s Adventures in Wonderland, 1865.

“My hart klop tok-tokkie waar hy breek vir my volk
Voor die Kakie-kanon of die k****r se dolk
Dit maak nie meer saak nie waar ons, ons begeef
Ons sal oorleef” – Steve Hofmeyr. ‘Ons Sal Oorleef’, 2011.

Daar is min kunsvorme wat Hofmeyr, man van vele talente en Ayn Rand-aanhanger, nog nie kon bemeester nie. Sjarm, sang, toneelspel, publieke statements en ja selfs in die rol van skrywer het hy hom bekwaam van sy taak gekwyt, ten spyte van bespiegelinge en geligte wenkbroue.

Steve Hofmeyr: Sanger, akteur, uitgesproke politiese figuur en deesdae ook skrywer. Onlangs het hy meer aandag en publisiteit geniet vir sy nuutste liedjie as vir sy tweede roman; ‘Ons sal oorleef’ staan beter bekend as die ‘K-woord liedjie’.

Die Verste Uur word as wetenskapfiksie of fantasie geklassifiseer deur kenners maar Hofmeyr self meen dat dit ’n romanse is. Hy is aangehaal waar hy verduidelik dat hy kontemporêre Afrikaners verteenwoordig in díe boek en dat hy ’n moderne perspektief wou skep. Ironies, die moderne perspektief, aangesien die boek totaal en al baseer is op ’n obsessie met die verlede.

’n Bleeksiel eerstejaar Tukkie ontdek ’n eksentrieke ou professor – wat geheimsinnig verdwyn het – se liefdesbrief aan sy vrou, navorsing oor ’n Barok-komponis en geheim tot tydsreis. Die komponis Jean-Phillipe Rameau, se biografie, fiktiewe Prof. Arnold du Plessis se brief aan sy “hoender” en ’n splinternuwe Suid-Afrikaanse tydlyn wissel die hoof-narratief af. Die vier verhale ontmoet soos ’n Dominant-Sewende: Die hipnotiserende klanke van Barok musiek wat gereeld geprys word dat dit neuron-paaie vorm (veral populêr vir ongebore baba’s) word in Rameau se werk ’n swart 8-minuut tonnel tot die verlede waardeur die hoofkarakter reis en perongeluk die geskiedenis van die nuwe Suid-Afrika na dit van die NZAR verander.

Jamie (Llewellyn) van der Merwe val van ’n perd af toe hy homself onverwags in sy voorvader se sitplek in 1900 bevind en siedaar! Die boere wen die Eerste Boere-Oorlog wat in volksmond nog bekend staan as die Anglo-Boere Oorlog. Hier moes die outeur himself gate uit geniet het. Wat sou die Afrikaner wees as hulle nie ’n vredesooreenkoms moes nagaan met die Kakies nie? Met noukeurige detail word die Afrikaners die Boere, die Jakaranda-stad die Akasia-stad en die terterige danseres op wie die hoofkarakter sy ogie het word ’n koekerige bibliotekaresse.

Apartheid word nooit gekonsepsualiseer nie omdat die beginsel daarvan gehandhaaf word deur die streng xenofobiese immigrasie-wette van die NZAR. Die wette is dus die oplossing vir ’n onafhanklike Boerestaat na die uitvlug van “Engelsgesindes, uitlanders en swartes”. Alle oorblywende inwoners van die gebied wat hoofsaaklik uit die Vrystaat en die Ou Transvaal bestaan word dan burgers later in 1900 en daarna mag geen nuwelinge die staat binnekom sonder ’n paspoort en werkspermit nie.

Nadat die hoofkarakter geskiedenis verander reis hy terug na die hede, nou soos hy dit self noem “Boereparadys”. Suiwer Afrikaans seëvier omdat alle universiteite Afrikaans is. Aanloklike, interessante fantasie-debatte ontstaan hier, wat die weg ruim vir die groter “wat-as” vrae. Soos Afrikaanse rock in die nuwe hede wanneer die hoofkarakter geskok besef:

“Die Linkin Park van ouds is hier vervang met Afrikaanse rockers uit 1968! Afrikaanse rock voor Viëtnam? Whatever! Maar sonder ou politiek was daar natuurlik geen Voëlvrytoer nie. Maar sonder isolasie sou rock ons ook nie so lank ontduik het nie.”

Oor die streng xenofobiese immigrasie-wette spreek die bibliotekaresse in die nuwe hede haar uit:

“Die wêreld beny dit nou. Maar te laat vir baie van hulle. Die Europeërs is nou behoudend maar ná eenhonderd jaar van oop grense en neurotiese liberalism kry Holland, Duitsland en Frankryk vandag ander name. Want die Hollanders, Duitsers en Franse is vandag minderhede in hul eie lande. Soos jy weet, het Amsterdam sy eerste Turkse premier.”

Daar word gesê dat mens dit kan agterkom in die werk of die skepper daarvan dit geniet het om dit te vervaardig. Ek kan my indink hoe Hofmeyr dit moes geniet om hierdie boek te skryf.

Deon Meyer, moontlik die grootste Afrikaanse spanningsverhaal-skrywer meen dat Hofmeyr eenvoudig ’n maestro is en Dana Snyman, storieverteller, wil saam met hom uithang.

Resensente maak hierdie fantastiese historiese spekulasie af as satire en meen dat slegs idiote sal val vir Hofmeyr se kamma-geskiedenis. Die roman word as vermaaklik beskryf en dit is ook. Maar as die skrywer nie so kontroversieel was nie, sou dit nog so vermaaklik wees? As die skrywer nie Hofmeyr was nie sou mens nog bekommerd wees dat die “k-woord” sonder seremonie, nie in direkte aanhalings nie, in die tydlyn van die nuwe geskiedenis gedruk staan? Dat die grootste massa-moord van ons tyd hierdie naweek in Noorweë gepleeg is ‘’om Europa te red van Muslim immigrante” terwyl Hofmeyr se karakter sonder aarseling na die trotse xenofobiese Boerestaat immigrasie-beleid verwys?

As Hofmeyr dan self Die Verste Uur ’n romanse noem, kan mens nie help om te bevraagteken waarin anders die romanse te vinde is behalwe in die Afrikaner-nasionalisme idiologie van die nuwe fantasie-geskiedenis wat deur Van der Merwe se val teweeg gebring is nie.

*Interessant om op te merk dat daar vandag (26 Julie 2011) in Afrikaanse koerante aan die lig gebring is dat Mnr. Anders Behring Breivik, die beskuldigde in die Noorse massamoorde, Suid-Afrikaanse skakels het. In sy stryd teen multikulturalisme het hy by ’n regse Suid-Afrikaanse webwerf geleen vir sy “manifes”.

**Kan nie die taal verstaan? Read Brandon Edmonds piece about Steve’s Facebook Wall here.

8   1
RESPONSES (25)